En hier is ons nou die eerste blog post vir BLOSS Magazine se vermaaklikheidsafdeling geskryf deur myself Zander De Beer.
Hierdie eerste Blog maak my kinderlik opgewonde, omdat ons die geleentheid kry om ons self as bloggers bekend te kan stel, en met jou die leser te kan deel presies wat ons laat tick, so laat ons dadelik weg spring.
Soos jy seker al raak gelees het is my naam Zander De Beer. Ek is ‘n 27-jarige akteur in die vermaaklikheidsindustrie van Suid-Afrika en werk al as kunstenaar in die industrie vanaf 2010. My liefde vir die kunste het begin op n jong ouderdom, van musiek, poësie, drama, film en so ook TV. Dit het alles begin by ’n videokamera, waarvan ek seker is almal op ‘n stadium een in hul huis gehad het.
Kyk…ek was daardie een kind wat “Home Video” tot die volgende vlak geneem het. Ek het ‘n span van vriende en familie gou by mekaar getrek en Steven Spielberg ore aan gesit met my eie weergawe van “ET” en talle ander produksies met name wat ek selfs nie eers meer kan onthou nie. Sonder dat ek dit geweet het, het my liefde vir drama ontwikkel.
Dit was die kuns in die ontwikkeling van karakters, en die werk wat daar in gaan om iemand anders te word vir ’n oomblik, die agtergrond werk wat in films in gaan, en die tegniese deel van toneel en of TV wat so baie mense nooit raaksien nie wat my aandag getrek het. So het ek deel geword van ’n wêreld waar niks onmoontlik was nie.
Dit is presies hoekom ek hierdie blog gaan skryf en gaan post elke maand: Wat maak die kunste mooi? Om klem te sit op die werk wat in die kunste gaan wat so baie mense nooit voor erkenning kry nie. Die kunstenaars en hulle stories van waar hulle begin het, en waar hulle steeds na streef. Van opkomend en selfs ook die mentors van die industrie. Dit alles maak deel van een baie mooi avontuur wat ek noem vermaaklikheid. Dié wereld verander konstant, wie weet waar ons gaan opeindig.
So, ek nooi jou saam soos ons dit gaan soek wat die industrie mooi maak, en om ook saam my te ontdek wat nog nie ontdek is nie.
Baie dankie vir jou tyd!
Tot ons weer gesels.