SUNEL reik ‘n treffende liefdesballade uit!

“Jy dra my hart op jou mou, en die wêreld kan vergaan. Jy’s die rede vir my bestaan.

Onthou, jy dra my hart op jou mou…” is van die hoendervleismooi liefdeslirieke uit sangeres en liedjieskrywer, SUNEL se nuutste enkelsnit,HART OP JOU MOU.

Hierdie pragtige lied, uit haar eie pen, stel nie net haar strelende fluweelstem perfek ten toon nie, maar is ook iets waarby enige romantiese siel sal aanklank vind. HART OP JOU MOU gaan daaroor om iemand werklik so lief te hê dat daardie persoon in alle aspekte jou hart op hulle mou dra. Om jou weerlose kant vir daardie persoon te wys, om jou diepste donkerste geheime met hulle te kan deel en te weet, maak nie saak wat nie, hulle sal kies om jou nogsteeds lief te hê,” verklap sy oor die betekenis agter hierdie diep emosionele Afrikaanse snit. “Die liedjie beteken geweldig baie vir my. Dit is sekerlik een van die diepstes wat ek nog ooit geskryf het en ek is baie trots daarop. Ek glo dat dit iets is waarby baie luisteraars sal aanklank vind. Om na musiek te luister, wat jou hartsnare sal raak en ’n mooi storie vertel, is geweldig belangrik. Daardie een liedjie wat jou hoendervleis gee, omdat jy kan vereenselwig met wat dit werklik beteken.”

Volgens die musikant, het sy met opset die produksie van die enkelsnit eenvoudig gehou, sodat daar niks is wat die rou lirieke en boodskap van die lied sou oorskadu nie. Die eindresultaat praat direk met die hart en het reeds musiekliefhebbers en radiostasies gaande. ’n Musiekvideo van die snit word ook vir later vanjaar beplan.

HART OP JOU MOU is SUNEL se tweede enkelsnitvrystelling. Die kunstenaar het bekendheid verwerf vir haar treffende debuut-enkelsnit,Fikcle Heart, wat vir nege weke nommer een was op SFM se Top 30 en vir dertien weke bo-aan die Nederlandse radiostasie, HOSA Radio, se trefferleer gekuier het. ’n Musiekvideo van dié liedjie is deur die SAMA- en Ghoema-bekroonde vervaardiger, Ryan Kruger van A Ryan Kruger Thing, vervaardig en is reeds deur meer as negeduisend mense op YouTube gekyk. “Dit was ’n groot voorreg om saam met Ryan te kon werk. Hy is een van die beste vervaardigers in die bedryf en dit was regtig vir my ongelooflik om my video saam met hom op te neem,” vertel sy trots.

Vanjaar vier hierdie vyf-en-twintigjarige Jazz-prinses van Mosselbaai, met haar tydlose stem, haar derde jaar in die musiekbedryf. Sy het in ’n huis vol musiek grootgeword en het gedurende haar skooljare koor gesing, aan konserte deelgeneem en klavierles gehad. In die kort tydperk waarin sy al professioneel musiek maak, het sy reeds die verhoog met talle groot name gedeel, waaronder Chris Chameleon, Elvis Blue, Laurika Rauch, Corlea Botha, Coenie De Villiers, Steve Hofmeyr, Bobby en Karlien van Jaarsveld, om net ’n paar te noem. Verder is dié blondekop ook ’n gereelde gesig by groot musiekfeeste, soos die Dias Fees (2016, 2017, 2018), Naartjie Fees, KKNK (2016, 2017, 2018), Bravo Fees en die Bushlapa Musiekfees. Sy het ook al twee vertonings saam met Pieter Koen en Willem Botha se kykNET SkoleToer gedoen.

Hierdie talentvolle musikant, wat deur alledaagse gebeure geïnspireer word om hartslirieke te skryf en hoendervleismooi musiek te skep, is ’n groot troeteldiereliefhebber wat daarvan droom om eendag ’n veilige hawe te stig vir mishandelde en weesdiere. As sy nie bevoorreg genoeg was om daar musiekdroom te kon volg nie, verklap die sangeres dat sy graag ’n professionele grimeerkunstenaar of sielkundige wou wees, omdat sy daarvan hou om na mense te luister en raad uit te deel.

Omdat sy ’n voorliefde het vir Jazz- en Swingmusiek, vind sy aanklank by kunstenaars soos Dean Martin, Ella Fitzgerald, Frank Sinatra en Katie Melua en word hulle uitgesonder as van haar grootste musiekinvloede. SUNEL droom ook daarvan om eendag saam met groot name soos Taylor Swift, Michael Buble, Celine Dion en Ryan Tedder te werk. “Ryan Tedder is die hoofsanger van One Republic en het al treffers vir baie groot name in die bedryf geskryf. Hy is ook ’n meester as dit kom by musiekvervaardiging, so dit sal lekker wees om saam met iemand van sy kaliber musiek te maak,” meen sy.

Oor die afgelope paar jaar, het sy besef dat dit nie maklik is om in die musiekbedryf te werk nie, maar dat jy in jouself moet glo en nie oorsensitief moet wees vir kritiek nie. Sy is tans besig om aan ’n oorspronklike Afrikaanse snit te timmer en wil graag vroeg in 2019 haar eerste album vrystel.

HART OP JOU MOU is die perfekte kombinasie van treffende lirieke en ’n meesleurende deuntjie, wat SUNEL se besonderse stem nie net op sy beste laat vertoon nie, maar luisteraars ook uitnooi om verlief en verlore te raak.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/sunelmusic/

Instagram: @_miss_sunel

Twitter: @Miss_Sunel

Zander de Beer
Zander de Beer

Editor: Entertainment

Zander de Beer is a dynamic young actor, singer and content creator who has been prominent in the entertainment industry since 2010. He is known for his roles and appearances on platforms like MNET, SABC, Vuzu, Mzanzi and KykNet. Zander is an active YouTube flogger and his involvement in music videos and short films are broadening his environment and achievements to an intentional accreditation level.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.