STATUS UPDATE – Hierdie somer se moet-sien-fliek!

Daar word baiekeer na hoërskool verwys as die beste jare van jou lewe. Net so, word dit deur sommige mense beskryf as ‘hel’ – ’n tyd waarin baie tieners eensaam, verneder en uitgesluit voel, omdat hulle sukkel om hulleself te vind.

Maar wat as jy nie so hoef te sukkel nie? Wat as skaam en vreemd eensklaps kon verander in gewild en vol selfvertroue? Wat as jy nie net inpas nie, maar sommer die coolste kat in die kamer kan wees? Wel, in STATUS UPDATE, is daar ’n selfoontoepassing wat juis dit doen.

Hierdie tienerprent, deur regisseur Scott Speer en draaiboekskrywer Jason Filardi, wys jou hoe die lewe sou wees as al jou drome kon waar word, elke keer wat jy jou status aanlyn verander.

Disney Channel-ster Ross Lynch is in STATUS UPDATE te sien as Kyle, ’n tiener uit Kalifornië, wat ontwrig word wanneer sy ouers skei en sy ma (Wendi McLendon-Covey) met hom en sy jonger sussie Connecticut toe trek.

By Kyle se nuwe skool, ontmoet hy al die gewone hoërskoolkarakters – Lonnie (Harvey Guillen), die bleeksiel wat sy beste vriend word; Dani (Olivia Holt), die meisie van sy drome; en Derek (Gregg Sulkin), die gewilde ou en Kyle se aartsvyand.

Soos dit te wagte kan wees, is Kyle soos ’n vis uit die water in sy nuwe omstangdighede. Sy eerste dag is vol vernederende oomblikke, wat veroorsaak dat sy selfoon deur boelies, wat deur Derek gelei word, gebreek word. Maar alles verander wanneer hy dit na ’n winkel toe vat om te laat regmaak.

Daar ontmoet hy ’n vreemde, skynbaar onbelangrike, selfoonverkoopsman (Instagram-beroemde, Josh Ostrovsky), wat hom voorstel aan YOUniverse – ’n geheimsinnge selfoontoepassings wat sy foon in ’n moderne ‘Aladdinse’ wenslampie verander.

Kyle ontdek baie gou dat hy met ’n enkele sin kan kry presies wat hy wil hê – of dit nou is dat sy pa (Rob Riggle) kom kuier, hy die stem het om ’n rol te kry in die skool se talentkonsert, of die vernuf het om die yshokkiekaptein se posisie in die span te bedreig.

Maar met mag, kom daar ook groot versoekings en Kyle wil net al hoe meer hê. In slegs ’n paar weke, verander die nuwe ou in die klas, in die skool se gewildste en mees veelsydige leerder. Iemand wat elke ou graag wil wees en waarmee elke meisie graag wil uitgaan.

Wanneer iets in die lewe – en in elke ander soortgelyke tipe fliek – egter te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik so. Kyle word ’n slagoffer van sy eie begeerte om aanvaar te word en gewild te wees. Maar kan hy sy lewe regruk en sal die mense wat hy seergemaak het hom kan vergewe?

STATUS UPDATE is ’n opwindende en vermaaklike kombinasie van talentvolle nuwelinge, soos Ross Lynch, Olivia Holt, Gregg Sulkin en Courtney Eaton, asook bekende sterre soos Rob Riggle, Wendi McLendon-Covey en John Michael Higgins.

“Die doel was om ’n storie te skep vir die grootskerm wat relevant is in vandag se tyd, maar steeds die prettige en hartlike elemente van ’n John Hughes-komedie behou. Dis ’n betowerende, moderne feëverhaal amper soos Big of 17 Again. Ek dink die span agter STATUS UPDATEhet dit reggekry en om dit en meer te doen,” verduidelik Filardi.

Alhoewel STATUS UPDATE die resep van ’n gewone tienerfliek volg, word die stereotipes aangevul met komedie, fantasie en ’n les oor morele waardes.

Die rolprent lewer ook kommentaar op sosialemedia. Asof hoërskool nie genoeg is nie, word sommige tieners nou ook blootgestel aan die wrede miskonsepsie dat almal rondom hulle se lewens beter is as hulle eie… want dit word elke dag vertoon in perfek-gefilterde foto’s. Maar alhoewel sosialemedia almal se lewens perfek laat lyk, is dit juis wanneer die filters wegval, wat jy besef dat dit ver van die waarheid af is.

STATUS UPDATE word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal landswyd vrygestel word op 23 November 2018.

 

Kyk die lokprent hier: https://www.imdb.com/title/tt5692390/videoplayer/vi3358963737?ref_=tt_ov_vi

SOSIALEMEDIA

Vir meer inligting oor STATUS UPDATE, insluitend die amptelike lokprent, hou ons Facebook-blad dop of volg ons op Twitter by @NutsAboutMovies en gebruik die hutsmerk #StatusUpdateMovieSA om oor die fliek te gesels.

INTERNASIONALE SKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/statusupdateM/

Twitter: @statusupdateM

Instagram: @statusupdatemovie

Zander de Beer
Zander de Beer

Editor: Entertainment

Zander de Beer is a dynamic young actor, singer and content creator who has been prominent in the entertainment industry since 2010. He is known for his roles and appearances on platforms like MNET, SABC, Vuzu, Mzanzi and KykNet. Zander is an active YouTube flogger and his involvement in music videos and short films are broadening his environment and achievements to an intentional accreditation level.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.